Sandra Nortje Translator –  Vertaler header image 2

Perspektief en komposisie

June 4th, 2009 · No Comments

Perspektief

Dis hóé mens dinge bekyk (en wáár jy jou staan kry) het hulle destyds by een van die klubvergaderings gesê. Ek weet nou wat hulle bedoel het.

Na ‘n lang tussenpose sukkel ek die laaste tyd om weer aan die gang te kom met my foto’s. Nuwe kamera gekoop; en met die digitale tegnologie se moontlikheid van duisende foto’s neem – sonder dat dit jou meer as kundigheid en energie kos – so het ek weer om my begin rondkyk. Maar nou weet ek ook, sommige foto’s laat hulle eenvoudig nie neem nie. Mens foeter dit op, of die lig is verkeerd, of die oomblik is té gou verby, of jy is te stadig. Of soms het jy eenvoudig jou kamera nie by jou nie, omdat jy nie geweet het die foto sou gebeur nie, of omdat die meeste van ons dit nooit kon regkry om een van dáái maagde te wees nie.

So was dit Vrydagaand. Ons was in Wellington omdat Sarah Theron dié aand in die Bordiênghuis by die Breytenbach Sentrum (ek sien hulle skryf dit twee woorde) sou sing. En ek het besluit dat dit is wat ek vir my verjaarsdag eerskomende Dinsdag wou hê: ’n naweek in Wellington by ’n lekker gastehuis, met ’n blues-konsert op die koop toe. My persent vir my 57e verjaarsdag.

Vrydagaand stap ons toe so halfuur of so voor die konsert sou begin in die laatskemer na die teater – nie daarop voorbereid dat ons dit nie dadelik gaan kry nie. Want ek het gedink dis eenvoudig een blok weg. Dit was ook – een blok weg, ons het net nie geweet watter een nie. In die al-baie-skemer het daar ‘n dynserigheid deur die ry bome in die straat gehang. My metgesel het hom uiteindelik onder ‘n lamppaal na die ander nuwe tegnologie gewend: sy selfoon met die navigeerprogram daarop. Vir Malherbe- en Burgherstraat met sy Breytenbachteater sou ons kry, kom wat wil! Maar terwyl hy hom verdiep in die roetekaarte van Wellington staan ek so bietjie en wag, so bietjie en rondkyk na die pragtige mistigheid onder die lamppale en die sagte skaduwees van die bome op die teerstraat. En ‘n entjie van my af staan hulle – die jong man en sy meisie. Sewentien, agtien, negentien, twintig? Wie weet. Hulle staan in die (gelukkig) stillerige teerstraat, so half in die skaduwee van een van die bome, maar eintlik glad nie doelbewus in die skaduwee nie. Dis net waar hulle was toe hulle mekaar omhels het – so vyftien meter van die man met die selfoon af, en effens meer in die skadu as hy. En hulle soen mekaar. Minute lank. Só lank dat ek genoeg tyd het om my foto presies te beplan: naby die regtergrens van my foto- die kaartleser op die sypaadjie onder die lamppaal; so een derde van die anderkant af, en ook bietjie meer na agter in die teerstraat onder die bome die twee wie se omhelsing maak dat niks anders vir hulle van betekenis is nie; ‘n ry bome van die een kant na die ander, en mistigheid die hele foto vol.

Ek was stom dat ek my kamera nie by my had nie. Maar ek kon nie weet dat hierdie oomblik sou plaasvind nie. En ook nie dat Sarah Theron bietjie later singend sou vertel van haar ouma Sarah se Morris, die hoenders, die eiers, die kindergrootmaak met die swaarkry en haar goue hart nie. Maar dalk was dit maar beter so. Ek wou nie op daardie oomblik al aan oumas dink nie. En ’n flitslig sou net die wasigheid van die mis verdryf het.

Tags: Kortverhale en vertalings

0 responses so far ↓

  • There are no comments yet...Kick things off by filling out the form below.

You must log in to post a comment.