Sandra Nortje Translator –  Vertaler header image 2

REIS: GEBIED ONGEKAART – Graham Greene

June 4th, 2009 · No Comments

Die vorm van Afrika

‘n Herinnering aan die donkerte: die meisie in Queen’s Bar. Ek het haar raakgeloop waar sy al huilende oor Leicester Square geloop het en waar die sypaadjies toe glipperig was van die blare wat al afgeval het; sy het by die ingang van die Empire Cinema ingegaan en driftig weer omgedraai (dit was nie goed genoeg nie) en toe uiteindelik op ‘n kroegstoeltjie in Queen’s Bar tot rus gekom, haar gesig opgemaak, ‘n gin en tonic gedrink; ek het nie die moed gehad om enigiets te sê of die details uit te vind nie. Buitendien, dit gebeur altyd oral. Mens huil nie as jy nie eers gelukkig was nie; trane beteken altyd iets te beny.

Die vliegtuig het geskud bokant Hanover, met die laaste van die storm wat daaragter uitmekaar spat, en het toe skielik vyfhonderd voet afgeduik na die klein lughawetjie toe en toe weer ooswaarts opgestyg. Agter die vliegtuig het die son tussen die wolke gesak; ons was bokant die sonsondergang; so met die terugkyk het dit na onder gelê, die lang bleek rimpels gekleurde wolke. Die lug was grys bokant die mere; die mere versink in die grond, soos stukke lood; die dorpsliggies tussenin. Dit was heeltemal donker nog lank voor Berlyn, en die stad het die vliegtuig tegemoetgekom uit die donkerte soos wat brandende doringstruike maak as vlamme aaneenskakel deur die donkergroen nag. ‘n Reklamebord in die lug was die grootte van ‘n posseël; mens kon die uitleg van die hele stad sien, soos ‘n verligte kaart van die moltrein as jy die knoppie druk om die roete te sien. Rooi en geel liggies het die groot reghoek van die Tempelhof gemerk; die vliegtuig het verbygeswaai oor die breedte van Berlyn, teruggedraai en afgesak; die ligte in die kajuit is gedoof, en mens kon die kopligte oor die teerpad sien vee, die vonke wat agter die grys Lufthansa-vlerk uitspat soos wat die wiele die grond geraak het, weer opgewip het en uiteindelik die grond vasgegryp het. Dit was geluk, daardie blitsige indruk; maar op die grond, so tussen die swastikas, daar het mens met elke tree pyn gesien.

Het omtrent nege-uur by die Gare St. Lazare aangekom. Dit was Paasfees, 1924. Het hotel toe gegaan, toe na ‘n casino om Mistinguette te sien, daardie dun, versekerde, beroemde bene, die skerp “aantreklike” gelaatstrekke soos die papiergesig van ‘n Ugly-Wugly in The enchanted castle. “(‘Loop op jou tone, liefie,’ het die Ugly-Wugly met die kappie op gefluister vir die een met die krans; en selfs tydens die spannende krisis het Gerald gewonder hoe sy dit kon doen, want die een voet se tone was niks anders as die onderent van ‘n gholfstok nie en die ander een s’n was die onderent van ‘n hokkiestok.)” Die volgende aand het die Kommuniste in die agterbuurt aan die onderpunt van ‘n doodloopstraat byeengekom: van die platform af het hulle aangehou lees uit telegramme, en almal het die Internationale gesing; toe’t hulle ‘n bietjie gepraat, en toe’t nog ‘n telegram daar aangekom Hulle was arm en gekwel en luidrugtig; mens het gewonder hoe dit moontlik was dat hulle soveel goeie nuus kon kry wat geen verskil hoegenaamd gemaak het nie. Al daardie goeie nuus en gesing was aan die onderkant van ‘n stegie in ‘n groot, koue saal; hulle kon nie uitkom nie; in die klein vierkantjie het soldate met blikhelms op tussen hulle opgestapelde gewere gestaan. Daardie nag het ek uit die hotelvenster gesien hoe ‘n man en ‘n vrou kopuleer; hulle het onder ‘n straatlamp teenmekaar gestaan, soos twee mense wat mekaar ondersteun en vertroos in die pyn van een of ander siekte. Die volgende dag het ek in die koerant gelees hoe die Rooies probeer ontsnap het, maar dat die soldate hulle gekeer het; ‘n paar mense is beseer, ‘n paar is tronk toe.

Die eerste ding wat ek kan onthou, was ‘n dooie hond onderin my stootwaentjie; die hond is doodgery by ‘n kruispad buite die dorp, waar ek later ‘n Jack-in-the-Green gesien het, en die oppaster het die hond onderin die stootwaentjie gesit en na my huis toe gestoot. Daar was geen emosie in die gesig nie. Dit was net ‘n feit.  Op daardie stadium in die lewe het mens ‘n bewonderenswaardige objektiwiteit. Nog ‘n feit was die man wat uit die huisie naby die kanaalbrug by die huis langsaan ingestorm het; hy het ‘n mes in sy hand gehad; mense het skreeuend agter horn aangehardloop; hy wou homself doodmaak.

Soos ‘n openbaring het ek toe ek veertien was, die plesier van wreedheid besef; ek het toe nie meer daarin belanggestel om in die dorp rond te Ioop of op die strand krieket te speel nie. Daar was ‘n meisie wat daar naby Ioseer het aan wie ek goed wou doen; ek het buite die deur rondgehang in die hoop om haar te sien. Ek het niks daaromtrent gedoen nie, ek was nie oud genoeg daarvoor nie, maar ek was gelukkig; ek kon aan pyn dink as iets begeerliks en nie as iets om voor bang te wees nie. Dit was asof ek ontdek het dat die manier om die lewe te geniet daarin geleë was om te weet hoe om pyn te waardeer.

Ek het haar van die anderkant van die kroeg af dopgehou; sy het gehuil en kon nie ‘n snars omgee nie; sy het almal verleë gemaak; hulle het om haar plek gemaak asof daar ‘n geveg aan die gang was, en sy het daar gesit en gin en tonic drink en huil met leë stoele weerskante van haar; die kroegman het aan die ander kant aanhou drankies bedien. Ek het selfs toe om een of ander rede aan Afrika gedink, nie aan ‘n spesifieke plek nie, maar aan ‘n vorm, ‘n vreemdheid, die behoefte om te weet. Die onderbewuste gees is dikwels sentimenteel; ek het geskryf ‘n “vorm”, en die vorm is, natuurlik, so rofweg, dié van die menslike hart.
(Graham Greene. Journey without maps. ISBN: 9780143039723.)

COPYRIGHT 2006 Literator Society of South Africa
August 01, 2006

Tags: Kortverhale en vertalings

0 responses so far ↓

  • There are no comments yet...Kick things off by filling out the form below.

You must log in to post a comment.